Om in Yzerfontein te kuier met kinders is net ‘n plesier! Onthou om ‘n paar gemaklike tekkies vir elkeen in te pak, langbroeke vir die perderitte en ook die gesin se Sasol Voëlgids. Fietse kom saam en so ook die familie gunstelinge, Max en Sam. Yzerfontein is ‘n kort rit uit Kaapstad en teen die tyd dat die padkos vir die jongspan op is, het julle reeds gearriveer. 

Oppad na julle gasteverblyf, stop vinnig by die plaaslike SPAR: hulle het potbrooddeeg (en goue stroop) wat perfek werk vir stokbroodbraai sommer nes Pa begin vuur maak op die eerste aand. Dis ook dan die ideale geleentheid om die bord- en kaartspeletjies uit te haal, dalk selfs ‘n prys op die spel te sit vir die gesinslid wat die algehele wegbreekwenner is.

Yzerfontein se strande is die ideale plek om te leer hoe om ‘n vlieër te laat sweef – iets wat elke kind moet ervaar. En natuurlik is die raakrugby, sokker of strandkrieket iets waarby ander jonges op die strand sommer gou sal by inval – die maklikste manier om vriende te maak. Bring gerus die honde saam strand toe met leibande en bederf hulle agterna met ‘n sjampoo by Tiny Bubbles. Die babapoel maak voorsiening vir die kleintjies wat veilig kan plas en sandkastele kan bou sodat Pa en Ma ook so bietjie kan rustig sit en die sonnetjie geniet. En dan natuurlik wil alle kinders daardie eerste vis vang -klein of groot. As jy nie lyn en aas het nie, DassenSeafoods en Perwinkles voorsien aan geduldige ouers alle toerusting en aas wat kan lei tot die suksesvolle vangs!

Bespreek vooraf die kinders se perderitte op die strand en onthou om die kamera byderhand te hou vir die foto’s wat vir Ouma en Oupa gestuur moet word. Verfklasse by ervare kunstenaars, Botha en Cheri Louw, is groot pret vir die jonges( en dalk saam met ma of pa) en word aangebied by die Weskus Padstal. Ouers kan smul aan die vars koek en eetgoed terywyl hulle wag of kan intussen  deel wees van ‘n megaskaakspel by die bekende padstal.

Vir die jongmense wat lus is vir die Yzerfontein waters, huur gerus ‘n kajak by Dassen Seafoods of ‘n branderplank by Rosemead. Laat die plaaslike NSRI vooraf weet as jy beplan om buite die hoofstrandarea te roei en wees gerus dat jy hulle ondersteuning het in onvoorsiene omstandighede. ‘n Heerlike bord vars aartappelskyfies in Portugese styl by Lullas sal na die oefening ‘n wenner wees.

Die Weskus is ‘n voëlparadys – met die WESKUS Nasionale Park wat om die draai is, sal jy baie unieke land- en seespesies kan afmerk .Kyk ook uit vir wilde diere soos kleiner bokkies, die dassiegemeenskap in die straat van die Hawe, meerkatte en krimpvarkies en selfs hier en daar ‘n volstruis. Almal het hulle  veilige plekkie in die Yzerfontein dorpsomgewing, maar moet hulle assebief nie voer nie en soos altyd bly op ‘n afstand / hulle is steeds wilde diere.

Nog iets lekkers om te doen vir ma en dogter is ‘n verf van jou eie bakkie by die geliefde Gretchen Arnot wat plaaslik pottery klasse aanbied. Die veilige Yzerfontein strate maak dit gemaklik vir kinders om te gaan stap en fiets te ry .Die pragtige roete seelangs vanaf die NSRI in die hawe tot by Schaapeiland is ‘n ideale halfuur stappie vir families almal wat wil ontspan en hule longe wil bederf met allergie-vrye vars Weskus lug. Oppad terug, draai in by SLOW TIME –  hier vind jy die beste draairoomys aan die Weskus …met ‘n flake of ander sprinkles

Yzerfontein is ‘n foto paradys en wat is belangriker as om jou vriende by die huis te laat weet dat jy op die Yzerfontein strande kuier – priceless Insta moments 

Voor julle huis toe vertrek, draai ma se arm vir daardie pratige T-hemp by ILOVEYZER of Perwinkles en moenie vergeet om vir jou juffrou ‘n inheemse vetplantjie en ‘n paar skulpies saam te neem nie!   

Bespreek vooraf : Tiny Bubbles – 073 005 1101, Perderitte – 083 453 2336 , Botha’s Art Studio- 082 871 4515,  Pottery& Paint – 0825674940, Kajakke  – 083 260 1514, Surboards  – 083 388 .3482